Geskiedenis2017-11-21T06:19:16+00:00

BROEDERSTROOM SE BOERESKOOLTJIE

Ongeveer in 1881 is die eerste skooltjie geopen op die plaas van Hercules Albertus Pretorius – broer van Andries Pretorius  en bekend as oom Bart.  Oom Bart is gebore op 22 Augustus 1803 en oorlede op 25 September 1889.  Hy lê begrawe in die Voortrekker Begraafplaas.  Dit was die Familie-Kerkhof vandat die eerste Voortrekkers op die plaas kom woon het vanaf die jaar 1840.

Die skooltjie is geopen in die solderkamer van Oom Bart se woning en eintlik tot oom Bart se verdriet, want die lawaaierigheid en lastigheid van die kinders het vir hom en sy gesin te veel geword.  Dit was veel erger as ‘n klomp rotte op ‘n plafon.  Tog het hy die onaangenaamheid vir ‘n paar jare lank verdra met die SOLDERKAMERSKOOL, soos die skool destyds onder die mense bekend was.  In 1884 kon hy dit nie meer met die kinders op sy solder uithou nie en bou toe vir hulle ‘n entjie van sy huis af, ‘n geboutjie van steen, klip en klei.  Hy was nou ontslae van die lawaaierige kinders op sy solder en hier het die klompie kinders van die omgewing skoolgegaan tot in 1899 toe die tweede Vryheids Oorlog uitgebreek het en die skooltjie, soos alle ander, gesluit moes word.  Byna alle Boereskooltjies in Transvaal is mos gedurende die Oorlog maar gesluit en die meeste van hulle is ook afgebrand deur die Engelse.  Van oom Bart se woning en Solderkamerskool is daar vandag niks te sien nie, want ‘n moderne woning staan vandag op die werf.  Van die losstaande klip-klei geboutjie kan vandag nog net ‘n stukkie staande muur en sy fondamente gesien word.

Ongelukkig weet ons nie veel meer van die ou twee skooltjies nie.  Ons weet nie wie die onderwysers was nie want daar is nêrens iets aangeteken nie en die ouer geslagte, wat nog iets kon vertel, het alreeds afgesterf.  Dis altyd jammer dat sulke geskiedenis verlore raak.

Eers op 24 April 1906 kon daar weer met ‘n skool begin word en dit was een van ons eerste CWO skole in die omgewing wat ook in ‘n woonhuis was, een kilometer noord van die vorige skooltjie wat daar was tot 1899.

BROEDERSTROOM SE GORDYNSKOOL (1906 – 1927)

Die Gordynskool is op Broederstroom geopen op 24 April 1906 in ‘n Boere woning met die skoollokaal en onderwyserswoning onder een dak.  Die woning is aan die TOD verhuur teen R20 per maand.  Mnr Wenting was die eerste hoof en na vele moeilikhede met die ouers en kinders, verdwyn hy sommer op 5 Augustus 1909.  Mnr JD le Roux probeer die skool weer aan die gang kry in 1910 maar na een kwartaal was hy so moedeloos dat hy ook vertrek sonder om terug te keer.    Hy kla dat die kinders nie skooltoe gestuur word nie … “they are occasionally kept at home to assist in the farm labour”.

In 1912 word mnr AW Bester hoof en die lokaal kry ‘n nuwe Gordyn as afskorting.   In April 1914 word mnr Bester skielik weggeroep en vir die res van die jaar is daar geen skool nie.  Mnr Wiehahn word hoof in 1915 en gaan alleen sukkelend voort met 40 leerlinge.  Materiaal is skaars, ouers is ontevrede, kinders bly uit die skool, die jong onderwyser kry die volgende antwoord van ouers nadat hy hulle oor die afwesigheid van hulle kinders aangekla het:  “I can’t do otherwise, have no servants to help me.  I am poor and must keep my house going”.  Daar word ook nou in 1917 kennis gemaak met die eerste Goewermentsdonkie wat aan Boere geleen is om hulle kinders skooltoe te vervoer.  Daar word gesukkel met ‘n lekkende gebou en daar is ook geen water nie.  Kinders draai stokkies en bly uit die skool en die hoof skryf:  “Petrus Steenkamp is absent today;  he is working in the lands and his lazy father sits on the stoep and chews and smokes”.  In 1918 sterf mnr Wiehahn aan die Spaanse Griep en mnr De Ridder neem oor in 1919 maar die moeilikhede en baie onaangenaamhede duur voort en noodsaak die hoof om as volg te skryf:  ” … daar is niemand wat zoveel as de swarte van mijn nagel oor heeft vir die arme banneling (onderwyser) nie”

Toe hy oplaas vertrek, teken hy aan:  “Ik ben verlost … Ik hoop dat mijn opvolger meer gediend zal zijn dan ik was”.

Met die jare het die ou gebou baie bouvallig geraak maar met die skoolhouery het dit in die twintigs begin beter gaan.  Mnr AW Pretorius word assistent in 1923 en hy sou nog ‘n groot rol later as hoof van die skool speel.  Uiteindelik was die Gordynskool se dae in 1926 getel want die TOD rig ‘n tweelokaal Goewermentsgebou op waarin daar in 1927 begin skool hou is.  Mnr HJH Glas, die eienaar van die ou gebou, sterf af aan kanker aan die einde van 1926 net toe die nuwe gebou voltooi was.  Lees volgende week oor Broederstroom se eerste Goewermentskool.

BROEDERSTROOM SE EERSTE GOEWERMENTSKOOL   (1927-1937)

Daar word “Hoera!” geskree toe die kinders van Broederstroom in Januarie 1927 hulle nuwe Goewermentskool betrek.  Dit was ‘n twee-lokaal gebou en die eerste Goewermentskool op die plaas nadat die eerste bewoners alreeds byna 100 jaar op die plaas was.  Alhoewel die gebou nou doeltreffend was, het die skooldonkies en kinders se afwesigheid nog veel onaangenaamheid veroorsaak:  “Cathleen Holman moes die eerste dag uitbly om ‘n bruilof by te woon en die tweede dag om te slaap”“Vandag is al die kinders van Kalkheuwel afwesig en die Joos weet wat hulle makeer” word geskryf.  Mnr AW Pretorius word hoof in 1929 en skoolsake verbeter sommer baie onder hom en mnr CW Roos.

Die Depressie-jare breek aan met groot geldgebrek maar die twee meesters stoei voort met die onderwys en hou Tiekie-aande vir die skoolfonds.  Op 5.9.’32 skryf die hoof:  “Ons het Saterdagaand ‘n Tiekie-aand gehou en £5.1 (R11) ingesamel.  Ons wil voetballe koop en ‘n Krismisboom hou”.

Die Afrikaanse Bybel word ook op 5.8.’33 in gebruik geneem en ‘n Bybelfees word gevier.  Skoolbesoek verbeter, skoolvoeding neem ‘n aanvang en kaas, melk, vrugte, sop, ens word elk skooldag gratis aan die kinders uitgedeel.  Die hoof moes vir al die voedsel self sorg met ‘n toelae wat hy van die TOD gekry het.  Swaar tyd daardie.

In 1937 breek die Sentralisasie tydperk van die TOD aan en Broederstroom kom ook onder die hamer.  Op 1.10.’37 sluit die skool vir goed en die kinders moes per bus na Roodewal en Elandsfontein gaan.  Groot was die teleurstelling en ontevredenheid oor die sluiting van die skool en vir 10 jaar lank word daar op allerhande maniere geywer om weer ‘n skool te kry.  Die Goewermentsgebou word deur die TOD plat gestoot sodat die ouers kon sien dat daar geen skool is nie.

Eindelik breek die blye dag aan op 2 Junie 1947 en mnr AW Pretorius, wat vir die afgelope 10 jaar op Elandsfontein was, word weer die hoof van Broederstroom in dieselfde ou woninggebou – die Gordynskool.  Daar word egter deur menere Pretorius en Roos voortgespartel in die ou gebou vir sewe jaar lank.  Eers op 5 Maart 1954 kon ‘n nuwe tydelike twee-klaskamer gebou betrek word en dit lyk nou vir die eerste maal of die toekoms van die skool veilig was.

Toe die skool op Dinsdag, 31 Jul ’56, begin  was mnr Pretorius in die hospitaal en op 3 Aug ’56 is hy oorlede so in die tuig.  Daar word geskryf:  “Met groot inspanning het hy, veral gedurende die laaste jaar, met sy siek liggaam skooltoe gesukkel … die kinders plaas ‘n krans op sy graf”.

Mnr CW Roos neem oor en die nuwe terrein word verfraai en binne die skool gaan dit ook klopdisselboom en so gaan dit blykbaar vandag nog onder mnr Du Plessis, die huidige hoof.

Dit was ‘n lang stryd vanaf 1880.

GR MULDER, Schoemansville (Verkort)

BROEDERSTROOM LAERSKOOL VANAF JANUARIE 1986

Die verskuiwing van die skool na die huidige perseel

Na jare se skrywes, navrae en herhalings van versoeke, het die verskuiwing skieklik werklikheid geword.Werkedepartement, kontrakteur en argitek het sonder enige kennisgewing, in volle kapasiteit op die skoolhoof (Mnr. D.E. du Plessis) toegesak – 8 man sterk met kaart en beplannings wat sommer gou en dadelik afgehandel moet word! Nogal ongerieflik vir ‘n hoof op die eerste skooldag van die nuwe jaar! Tog is daar groot dankbaarheid dat alle onsekerheid uit die weg geruim is – die nuwe skool is ‘n werklikheid en moet nog in 1986 voltooi wees.

Die eerste fase

Die volgende geboue word eerste oorgeplaas:

  1. Skoolsaal
  2. Hoofwoning
  3. Werkers se kwartiere

Tweede fase

Die geboue van Johannesburg Onderwyskollege (JCE), word oorgeskuif na die nuwe terrein.

Volgens meneer Du Plessis, is daar baie brouwerk gedoen met die oprigting van die nuwe geboue.

Op 8 Januarie 1986 open die skool vir die nuwe jaar met 6 onderwysers.  22 graad eens, gr. 1 & 2 word gekombineer (30).  Totaal vanaf gr. 1 to st. 5 is 103 leerlinge. Die getalle styg met 1 vanaf die vorige  jaar.

Die verskuiwing vind gedurende hierdie jaar plaas en gaan gepaard met baie frustrasies.

Gedurende die Huissport van 1986, is die omset R702,00.

Op 24 Februarie 1986 ontruim die skoolhoof (Mnr. D.E du Plessis) en sy gesin die hoofwoning wat na die nuwe perseel verskuif moet word.  Hulle word tydelik in ‘n huurhuis geakkomodeer.

Op 1 Maart 1986 bied Laerskool Broederstroom vir die sesde jaar die Blackie Swart Prestige Atletiekbyeenkoms aan. Daar was inskrywings van 21 kleiner skole met ‘n iteminskrywing van 400 atlete.

Gedurende Mei 1986 verloor die skool ‘n onderwyser a.g.v die daling van getalle. Mnr. H.A. Pretorius verloor in die tyd sy permanente pos by die skool en word elders geakomodeer.

Gedurende 1986 is daar baie veiligheidskwessies in die omgewing en die Kommando’s patrolleer die skoolomgewing op gereelde basis.

Op 5 Augustus 1986 heropen die skole in Augustus  met 5 onderwysers (die hoof ingesluit) en 90 leerders.

Gedurende hierdie jare floreer die sagtebal by die skool en word daar jaarliks ‘n groot dag deur die skool aangebied waarby baie skole betrokke is (Glosterdag).

Aan die einde van 1986 begin die groot trek na die nuwe geboue in Flora Park. (Die ou geboue is vanaf 1958 tot 1986 gebruik  – dus 29 jaar).

Die st. 5’s van 1986 skenk die hek en gedenkplaat wat by die ingang van die skool op die nuwe terrein aangebring sal word. Die skool sluit af met 87 leerlinge en 5 leerkragte.

Vanaf Januarie 1987

Op 5 Januarie 1987 begin die skool amptelik op die nuwe terrein by Flora Park. Die skool heropen met 91 leerlinge en 5 onderwysers op die nuwe terrein.

Die nuwe sportgronde word mettertyd aangelê.