AFSKEIDSBOODSKAP – JUFFROU INA

Dis maar altyd moeilik om afskeid te neem, maar soos Jonathan Lockwood Huie gesê het: “Vier elke einde, dis die voorloper van ‘n nuwe begin”. En soos die Prediker sê: “Elke ding het sy vaste tyd” en hierdie tyd om “totsiens” te sê het nou aangebreek.

Daar is sekere mense en plekke wat in ‘n mens se lewe ingroei. Iemand of iets aan wie jy jou van tyd tot tyd kan toevertrou, waar jy altyd welkom voel, altyd veilig voel.

Broederstroom Laerskool was vir my so ‘n plek en Broederstroom mense, groot en klein, was vir my sulke mense vir 38 jaar lank.

Elkeen van ons loop ‘n lewenspad, en ons paaie is nie altyd vol helder liggies, sodat ons presies kan weet waarheen ons reis nie. Ek het probeer om nooit te oordeel as iemand van die pad af voeter nie, want ek is soms maar ‘n vrot bestuurder myself!

My jare hier by Broederstroom Laerskool was ook ‘n lewensreis waarvan baie kilometers op ‘n geel bus gespandeer is. Ek het so baie mense en vriende ontmoet wat saam met my gereis het, wat saam met my opgeklim het, wat later weer afgeklim het.

Die kinders wat op my reis saam met my op die bus geklim het, was altyd die heel belangrikste. Broedies het probeer om vir elke kind vlerke te gee sodat hulle soos arende na die kruin van hul lewens kan vlieg. Ons het probeer om ‘n “ligpad” vir kinders te skep sodat hulle veilig by hul bestemming kan arriveer, en as hulle soms van die pad af sou voeter het ons met noodhulp nader gestaan. Dit was of “TLC” naamlik “Tender love and care” of “TLP” naamlik “Tender loving punishment”, en ons het seker gemaak ons los geen “bewyse” vir moontlike hofsake nie!!

En soos die wiele van die bus gedraai het, so het die wiele van die lewe ook bly draai. Broedies mense was, en is, sterk genoeg om saam te bly draai. Broedies mense is die sout van die aarde, mense wat omgee vir mekaar, mense wat vir mekaar ‘n plek in die son gun, mense wat omgee vir ander, mense wat nie wedywer of snobisties is nie. En al was ons dalk somtyds onder, het ons altyd weer bo uitgekom.

Alle ervarings was nie noodwendig altyd positief nie, maar dit was nodig. Nodig om die reis vorentoe met nuwe moed aan te pak, want daar sal altyd weer ‘n nuwe more kom.

Die mense op my Personeel het deur die jare in my lewe ingegroei en in my hart staanplek kom maak. My Personeel en Beheerraad was mense aan wie ek my van tyd tot tyd kon toevertrou. Wanneer die horison dalk donker gelyk het kon ek altyd staatmaak op my Personeel en Beheerraad om die tekens van lig te soek om die die ligpad weer te kan vind.

Aan die begin van my reis as Onderwyseres het ek ‘n groot mandjie gehad wat met frilletjies-lap oorgetrek was. In daardie mandjie was my tikmasjien en my stencils, en my viltpenne, en my sterretjies, en my stempeltjies, en my suiglekkers. ‘n Ou mandjie met ou dinge. Ek het ook ‘n geel krat gehad vol boeke wat gemerk moes word, al was dit oor naweke of tydens familie- byeenkomste. My gesin het baie kere laaste gekom op my reis.

Nou aan die einde van my reis as Hoof, het ek ‘n groot aktetas met leer oorgetrek. Daarin is ‘n tablet, en ‘n skootrekenaar, en dwelm-toetse, en molestering- en aanrandings-vorms, en beleids- dokumente, en kalmeerpille, en anti-depressante, en ‘n botteltjie wyn. ‘n Nuwe mandjie met nuwe dinge.

Na ‘n reis van 43 jaar in die Onderwys kan ek nie meer alles so mooi onthou nie. Ek weet net dat dit ‘n tyd in my lewe was wat beleef moes word. My generasie het die meeste veranderinge in die Onderwys beleef en ek weet nie of dit altyd noodwendig “beter” was nie.

Ek het blinkoog en goedgelowig op my onderwys-reis gegaan. Ek het met heldere sekerheid geweet dat oplossings “voor-die-hand-liggend” is. Ek het die verloop, die logika, en die uitkoms, met vaste wete gesien aan die begin van my reis. En toe op my reis begin die plae my tref wat my reg in die skoene van die Egiptenare geplaas het!! En omdat ek nie ‘n Egiptenaar is nie, moes ek soos ‘n goeie “boervrou” planne maak om veilig anderkant uit te kom.

Ek het my reis in die Onderwys oorleef, omdat die “vuur” binne-in my helderder gebrand het as die “vure” wat soms rondom my gebrand het. Ek het op my reis geleer om te “lag” wanneer dit te “warm” geword het rondom my, omdat “lag” die verstandigste en maklikste antwoord is op alles wat ‘n mens soos vuur wil verteer. Ek weet nie wat nou vir my voorlê nie, maar laat dit wees wat dit wil. Ek sal dit “laggend” tegemoet gaan!

Daar is mense met wie ek nog nooit rusie gemaak het nie, want ek het so ‘n goeie humeur!! En dan is daar mense met wie ek wel rusie gemaak het, hulle het so ‘n slegte humeur!!

Maar wat ek eintlik hier wil sê is dit: Ek weet nou dat die saaityd nie saamval met die oestyd nie. Ek weet nou dat ‘n mens ‘n breë rug moet hê waaroor onbegrip en beledigings soos water na onder moet stroom. Ek weet nou dat ‘n mens klappe moet kan ontvang sonder om terug te slaan. Ek weet nou dat ‘n mens jou glimlag vir jou vyand moet hou, jou trane vir jou vriende, jou hart vir jou mede-mens, jou oordeel vir jouself, en jou gewete vir jou God.

Ek wil nou van die geel bus afklim, want ek het by my eindbestemming aangekom. Ek wil graag baie dankie sê vir so baie vriendskappe en ondersteuning, opreg en getrou. Ek wil graag baie dankie sê vir almal wat my gehelp het om weer op te staan as ek geval het. Ek wil graag baie dankie sê vir soveel hulp as ek verward was of vasgehaak het. En al spoed die jare oor ons heen sal my reis by Broedies altyd in my gedagtes en in my hart bly.

Ek wens vir julle elkeen die moed van die son toe wat elke dag opkom en helder oor almal skyn. Ek wens vir julle elkeen ingebore sterkte en krag toe om deur duisternis die sterre te mag sien blink. Mag Broedies “Gentlemen” en “Gentlewomen” die wilde wêreld instuur. Seuns en dogters met eienskappe soos empatie, regverdigheid, eerlikheid, integriteit, nederigheid, en goeie maniere. Begin elke dag om julle afhanklikheid van ons Hemelse Vader te erken, want sonder Hom is ons tot niks in staat nie. Plaas hierdie skool en sy mense in Sy hande, om dit steeds “die regte skool vir die regte redes” te maak in die toekoms.

My beste wense vergesel julle op die pad vorentoe! Ek groet u een en elkeen.
Groete,

Juffrou Ina

LAAI AF